Wat ons glo

Gehoorsame uitvoering van God se opdrag

Ons visie- en missie vorm die kern van ons gemeente se doel en rigting, en lei ons om God se roeping te vervul. Dit weerspieël ons toewyding aan gehoorsaamheid, dissipelskap en die bou van Sy Koninkryk met duidelikheid en doelgerigtheid.

Ons Visie

Ons visie is dat niks (Rom. 8:39) “..ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie”.  Ons glo in die Bybel as God se hoogste openbaring en onfeilbare gids vir ‘n liefdevolle geloofslewe. Ons glo in die Drie-eenheid: God die Vader, Jesus Christus die Seun, en die Heilige Gees” die weg tot Ewige Lewe. (Markus 1:3)

Ons Missie

Om volgens Mark. 1:3 “Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!” Ons strewe is om die ware Evangelie boodskap van genade, hoop en waarheid volgens die Woord te verkondig, aan alle nasies en kultuurgroepe – deur geloof in Jesus Christus wat die sleutel is tot geregtigheid en redding, en daagliks daarvolgens te leef. Ons streef daarna om in ‘n donker wêreld die liefde van Jesus uit te leef en daardeur hoop te gee aan ‘n verlore gaande wêreld!

“die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!”

Markus 1:3

Grondbeginsels van Woord in Waarheid

Woord in Waarheid is gebou op die volgende vyf Grondbeginsels en streef om dit te alle tye na te volg:

1. Duidelike strategie en rigting

Strategiese doelwit beplanning om duidelike, langtermyn doelwitte te stel wat in lyn is met ons missie en visie.  Die identifisering van prioriteite, die toewysing van hulpbronne, en die ontwikkeling om doelwitte te bereik.

Ps. 32:8 “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.”

Spr. 16:3 “Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word.”

2. Leierskap Struktuur

Leiers moet geloofwaardige, betroubare en bekwame mense wees, wat inkoop in die visie en missie, met dieselfde doelwitte, om diensbaar te wees, en hul verantwoordelikheid ten volle te begryp en uit te leef.

1Pet. 5:2 “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar uit gewilligheid;  nie om vuilgewin, maar bereidwilligheid.”

3. Dissipline en Orde

Christene word geroep om ordelik te leef, hulle te onderwerp aan die waardes en gedragskodes volgens die Woord, as ligdraers van God !

1 Kor. 14:33 “want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede,…”

1 Kor. 14:40 “Laat alles welvoeglik en ordelik geskied.”

4. Kultuur

Om as een liggaam in Christus te leef in spontane lofprysing, aanbidding en profesie, gegrond in ons geloofswaardes en oortuigings en om mekaar met genade en liefde te dien deur diensbaarheid, gasvryheid en dissipelskap, ongeag geslag, ras, taal of agtergrond. Dit alles met die doel om uitsluitlik die suiwer Woord van God, soos dit in die Bybel geopenbaar is, te verkondig.

Rom. 12:4-5 “Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar.”

5. Hulpbronne

Vertou op God se voorsienning, om hulpbronne effektief te gebruik – Mense, Finansies en Toerusting!

Vertrou op God se Voorsiening: – God is die bron van alle voorsiening. Hy gee nie net wat ons nodig het nie, maar ook wysheid om dit reg te bestuur. Sy voorsiening kom met verantwoordelikheid.

Filippense 4:19 “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”

Mense as Hulpbronne: – Elke persoon het ‘n rol en ‘n gawe – effektiewe gebruik van mense beteken om hulle te bemagtig en in hul roeping te laat floreer.

Romeine 12:6 Ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is:

Finansiële hulpbronne: – Dit is ‘n geskenk van God, en ons word geroep om dit met integriteit en wysheid te bestuur. Finansies moet gebruik word om Sy koninkryk te bou.

Spreuke 3:9 “Vereer die Here uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste”

Toerusting en Materiële Hulpbronne: – Is deel van God se voorsiening. Effektiewe gebruik van toerusting, gereedskap, tegnologie en infrastruktuur beteken om dit met doelgerigtheid en ywer te gebruik tot eer van God.

Spreuke 21:5 “Die planne van die vlytige is net tot voordeel.”